Skryf en reis
Skryf is 'n reis.
Ek beweeg, ek groei, ek leer. Ek skryf nie om by 'n doelwit of 'n bestemming uit te kom nie, maar tog is elke woord of frase 'n stap vorentoe. Om te skryf, gaan vir my oor die goed wat onderweg gebeur.
Skryfboeke en joernale is my gunsteling geskenk, altyd boaan my wenslys en my geliefdes voldoen daaraan, met plesier: van groot tot klein, versier of plein, met boekmerklinte of plek vir ‘n pen, elkeen iets besonders. Die stapel word tussen vertrekke in die huis rondgedra en die nuutste een bly op my bedkas.
Skryf gaan op reis.
Net soos hik gaan een van die boekies altyd saam met my oor die see en, voor Covid, bly die een toe daar en ek kom weer. Eers met my eerste kuier aan die geliefde émigrés ná Covid kon ek dit terugkry en ek verkyk my aan die notas wat ek op die vlug soontoe gemaak het: hier het ek die spyskaart afgeskryf (“chia and quinoa roll, artichoke, chicken breast, pumpkin, Rowies chocolate and cacao mousse”); laer af die woorde van ‘n rap-lied; op die volgende bladsy ‘n Gibb-broer se verduideliking van musiek, noukeurig afgeskryf uit die dokumentêre fliek How Can You Mend a Broken Heart. (Ek onthou hoe ek die video aan- en teruggedraai het om elke woord te kry. Ek het 11 uur en 57 minute tyd gehad.)
Ek maak van die boekie in my hand ‘n duimbioskoop en laat die blaaie verbyskiet. Nog heelwat wit, sien ek, nog veel te skryf.