Vluggedagtes
Net voor die kajuitdeure gesluit word, skuifel vier passasiers in die paadjie verby, vorentoe. Hul sitplekke in die ry agter my word vir 'n onverwagse gas benodig – 'n draagbaarpasiënt, iemand vir wie hierdie vlug dalk die laaste en die langste reis van almal gaan wees.
Soos 'n muntstuk wat tussen hemel en aarde hang - vir 'n oomblik vry van die swaartekrag se besluit oor kop of munt - styg ons vliegtuig op in daardie vreemde tussenruimte waar lewens begin, eindig, of net vir 'n oomblik verpoos.
My ma sou gesê het dis nie gepas om om te draai en te staar nie, so ek kyk liewer by die venster uit. Ek het iewers gehoor dat babas wat in die lug gebore word, kan kies aan watter land hulle wil behoort, afhangende of hulle meer van die opstyg of die landing gehou het! Nou wonder ek - as 'n mens kan kies waar jy hoort wanneer jy die wêreld tydens 'n vlug binnekom, kan jy dalk ook kies waarheen jy op pad is wanneer jy dit tydens ‘n vlug verlaat? Miskien sweef daardie siel nou reeds hier tussen die sterre.
Die lugwaardin kom van voor in die kajuit aan met die kostrollie, haar kos-keuse-kanon van “chicken or beef?” wat al hoe nader aan ons beweeg.
Pas verby ons ry, tree sy terug en vra sag: “Verskoon my, maar sou u dalk 'n muntstuk hê om te leen? Die passasier in die ry agter u soek iets om sy finale keuse mee te maak.”
Ek kan sweer ek hoor 'n sagte laggie van iewers tussen die wolke.