My pa se verjaarsdag: 17 Desember
Ek onthou hoe oorweldig ek gevoel het toe ek as kind die eerste keer besef het dat wolke skaduwees het. Ons was op pad na die familie toe, in ‘n stasiewa met vensters witgewasem van frikkadelle en gekookte eiers en flestee. Buite, langs ‘n pad wat ek nie kan onthou in watter provinsie dit was nie, was bruin mielies, die landskap plat en yskoud uitgestrek so ver soos ek kon sien. Die agtersitplek van die stasiewa was platgeslaan en die kleine ek en my broer en susters het teen die wiel se halfmaanbult en dwars agter die voorsitplek op my pa se aandrang tussen die comics en die krummels ons lê gekry. Ek het gevoel hoe ons onder ‘n skaduwee inry en het met my neus teen die groot agtervenster regop gaan sit. Agter op die pad kon ek sien waar die wolk se skaduwee begin, so duidelik soos die lyne van my hand as ek saans op die sitkamermat onder die lamp gesit en teken het. Ek het omgedraai en oor my boetie se bene vorentoe geklim en tussen my ma en my pa se skouers deurgehang, net betyds om te sien hoe ons oor die skaduwee se ander rand in die koue sonlig inry. Dit was die eerste keer dat ek besef het wat om en langs die aarde gebeur. En hoe verstommend groot die hemel is en hoe helder die son; maar tog tesame so verstaanbaar soos ‘n lamp in die hoek van ‘n sitkamer.